VIND PLAAS IN KWARTAAL 2 EN 3
By Laerskool Vredenburg bied ons ‘n verskeidenheid wintersportsoorte aan waar leerders hul talente kan ontwikkel en spanwerk leer. Ons skep geleenthede vir elke leerder om met trots deel te neem, hul beste te gee en die skool met passie te verteenwoordig.
Rugby is ‘n trotse tradisie by Laerskool Vredenburg, waar ons spelers op verskeie vlakke presteer en aangemoedig word om hul volle potensiaal te bereik. Ons neem deel aan die Weskusliga, sportdae in die Platteland- en Swartlandstreke, asook wedstryde teen skole in die Kaap.
Ons rugbyspanne geniet gereeld die geleentheid om aan toernooie deel te neem, waaronder Augsburg Gimnasium se jaarlikse sporttoernooi en Riebeek-Kasteel. Van ons grootste toere het selfs Namibië ingesluit. Deur die jare het Laerskool Vredenburg verskeie provinsiale spelers opgelewer, waaronder oudleerders soos Stedman Gans (Blitsbok) en Ruan Kitshoff, kaptein van die Namibiese nasionale rugbyspan.
Koördineerder: Kobus Boonzaaier
Netbal vorm ‘n belangrike deel van ons wintersportprogram en word vanaf O/7 tot O/13 met toewyding afgerig. Ons spanne neem deel aan die Weskusliga, wedstryde in die Platteland- en Swartlandstreke, asook teen skole in die Kaap. Jaarliks reis ons ook na Augsburg Gimnasium se sporttoernooi, waar ons spelers waardevolle wedstrydervaring opdoen.
Ons netbalspelers kry die geleentheid om aan Weskus- en Wes-Kaapproewe deel te neem, en Laerskool Vredenburg lewer jaarliks spelers van uitstaande gehalte op wat op hoër vlak presteer.
Koördineerder: Talitha Blom
Laerskool Vredenburg beskik oor vier hokkievelde, wat dit moontlik maak vir verskillende ouderdomsgroepe om gelyktydig te oefen en wedstryde te speel. Hokkie word vir seuns en dogters vanaf O/8 tot O/13 aangebied, met toegewyde afrigting en uitstekende ontwikkelingsgeleenthede.
Ons spanne speel gemiddeld tien wedstryde per kwartaal en neem ook deel aan gewilde toernooie soos Gericke, Worcester Primêr en die Mikro Hokkiedag. Leerders kry jaarliks die geleentheid om aan Wes-Boland- en Bolandproewe deel te neem en hul talent op hoër vlak te wys.
Koördineerder: Gideon Rossouw
Landloop by Laerskool Vredenburg bied aan leerders die geleentheid om hul uithouvermoë, deursettingsvermoë en liefde vir hardloop te ontwikkel. Ons neem deel aan beide die Weskus- en Bolandliga, waar ons atlete jaarliks uitstekende prestasies lewer.
Ons landlopers verteenwoordig die Weskusstreek by die Bolandkampioenskappe en kry die geleentheid om op hoë vlak mee te ding. Deelname aan die Bolandliga bied leerders die kans om vir provinsiale kleure te kwalifiseer en hul talent verder te ontwikkel.
Koördineerder: Francois Langenhoven