In 1880 word die eerste regeringskool met vyf leerlinge geopen op die terrein waar die huidige Laerskool Vredenburg geleë is. Die skool, bekend as Hoërskool Vredenburg, bestaan later uit 64 leerlinge van Sub A – Std. 6. Die leerlingtal groei tot 230 en in 1921 word die skool uitgebrei om leerlinge tot std. 8 in te neem. In 1923 kry die skoolgebou hoërskool-status en die eerste std. 10-leerlinge voltooi die Senior Sertifikaat- eksamen en al 5 slaag. In 1932 ontwerp Prof. Blommaert die skoolwapen en C. J. Langenhoven verander die leuse na: NET DIE BESTE GEE VOLDOENING en dit dien steeds as ‘n rigtingwyser vir leerlinge en onderwysers om daagliks net hul beste te gee.
In 1961 is die skoolgebou herbou en word die fondasie vir die nuwe Hoërskool Vredenburg gelê. Die toename in leerlinge noop die regering om ‘n nuwe hoërskool te bou en in 1972 skei die twee skole amptelik en staan tot tans bekend as Laerskool Vredenburg (oorspronklike skoolgebou) en Hoërskool Vredenburg (nuwe gebou). Mnr. W.C. Verster word aangestel as die eerste skoolhoof van Laerskool Vredenburg. Hy was ‘n visioenêre leier, ver voor sy tyd en het altyd groot gedroom. Met sy innoverende benadering het hy Laerskool Vredenburg as ‘n skool van uitnemendheid aan die Weskus gevestig.
Tydens hierdie jare het Afrikaans as voertaal sy prominente plek behou en was die trots van die skool en gemeenskap. Later het die skool na ‘n parallelmediumskool verander, maar steeds het Afrikaans floreer en ons het tans 4 Afrikaanse klasse en een Engelse klas in elke graad. Ons taal bly ons trots en ons dra ons Afrikaanse identiteit met trots op akademiese -, sport- en kultuurgebied. Inklusiwiteit vir sprekers van ander tale is egter deel van ons akkommoderende gesindheid en word nie uitgesluit nie.
In 1925 was mnr. JPA Lochner as skoolhoof aangestel en hy skryf en toonset die skoollied in 1948/49. Na die skeiding van die skole, het Laerskool Vredenburg die skoollied behou.
Die infrastruktuur van Laerskool Vredenburg het oor die jare ontwikkel en die bydrae van die ouers en die gemeenskap was beleggings in hul kinders se toekoms. Die huidige rugbyvelde is deur ouers se harde werk in 1974 – 1976 ontwikkel. In die volgende 53 jaar het verskeie infrastruktuur-projekte gevolg: biblioteek, dwergtennisbane, swembad, sportklubhuis, gemoderniseerde administratiewe kantore, rekenaarsentrum, 8 nuwe klaskamers vir graad 4 en 5, tennisbane, swembad kry ‘n glasveselbodem, moderne mediasentrum, snoepwinkel, sportkleedkamers, netbalbane en krieketfasiliteite word opgradeer, pawiljoen, 5 nuwe klaskamers vir gr. 3, draadheining vervang met pilare en palisades, dataprojektors in alle lokale, musieksentrum, kunssentrum en in 2022 die kloktoring.
Gly die tydlyn na links of regs om meer datums te sien
ONS HUIDIGE SKOOLHOOF
Mev. Nicoleen Loubser was op September 2025 ingehuldig as Laerskool Vredenburg se nuwe skoolhoof. Na amper drie jaar as waarnemende skoolhoof is Mev. Loubser amptelik aangestel as die skoolhoof van Laerskool Vredenburg vanaf 1 April 2025.
Ons vorige leiers van ons skool:
1972 – 1996 Mnr. W.C. Verster
1996 – 2022 Mnr. A Müller
2025 – Huidiglik: Mev. Nicoleen Loubser








DIE KWARTELTJIE VAN 1996
Die kwarteltjie was die skoolkoerant van die laerskool. Die naam het mettertyd verander na Windmakertjie. As jy mooi lees sal jy selfs iemand bekend sien!




DIE OORSPRONKLIKE AANSTELLINGSBRIEF VAN WYLE MNR. WILLA VERSTER EN SKOOLLIED
Dit is bitter min dat mens steeds in die argiewe kan krap en die heel eerste skoolhoof se aanstellingsbrief kan opspoor.
Lees gerus!
Asook n voorbeeld van ons skoollied van 2 Desember 1971